Afrikaans Children's Story: Rudie se wens
Rudie se wens.
Rudie is baie ongelukkig waar hy in'n boom sit en tob. "Ek lyk
nes 'n tak met 'n krulstertjie" dink hy vies, "so bruin en vaal
dat niemand my eers raaksien nie! Net somtyds kry ek dit reg om
ander kleure aan te trek, hoe werk dit dan tog? Ek wil nie meer
'n verkleurmannetjie wees nie, ek wil net 'n kleurmannetjie
wees! Rooi Rudie sal ek myself dan noem, rooi is tog so mooi!"
Rudie en sy familie bly in 'n ver, ver land, Madagaskar, eintlik
'n eiland, 'n land binne-in die grote see. Hulle woon daar in 'n
wonderwoud, 'n reenwoud wat skitter met druppende blare en wemel
van springende, swaaiende, en die allersnaakste gediertetjies.
Daar bestaan 'n legende dat daar iewers in die wonderwoud 'n
towerdwergie woon, wat indien jy hom kan vind, jou wense sal
waarmaak. Om hom egter te vind, word vertel, dat jy baie dapper
moet wees en fyn moet kan luister na die fluisterstemme van die
woud.
Was dit nie vir sy krulstertjie nie het Rudie nou kaplaks uit
die boom geval van pure opwinding. "Nou onthou ek van Wouter die
towerdwerg van die wonderwoud roep hy bly! Ek gaan hom soek, en
ek sal nie ophou soek todat ek Rooi Rudie is nie. Rooi Rudie met
'n klein tonggetjie nou dat ek daaraan dink, ek haat hierdie
lang, taai tong!"
Rudie vertel opgewonde vir sy ouers van sy voorneme. Rudie se
pappa raak eers rooi, dan blou, dan groen, en dan weer pers, so
kwaad is hy! "Hoor ek reg? Nee, dit kan nie wees nie! Ek het nog
nooit van iets so gek gehoor nie! Jy is 'n verkleurmannetjie
Rudie, en ons is van 'n oeroue familie waarop jy trots behoort
te wees! Daar is nie eers so iets soos 'n kleurmannetjie nie!"
Sy mamma huil so dat die trane in stroompies uit haar ronde
ogies loop, maar nie pappa se woede en verwyt of mamma se trane
en gepleit kan Rudie van sy plan laat afsien nie.
So vetrek Rudie toe met 'n bondeltjie goggas vir padkos, sy
oortjies gespits vir die stemme van die woud en 'n niksbang
hartjie wat hoop op sy reis na 'n wens.
Voel-voel, beweeg Rudie teen 'n slakkepas dieper en dieper in
die wonderwoud in. Hy is nou al dae lank van die huis af weg en
baie moeg. Sover, kon geen enkele gediertetjie wat Rudie op sy
tog ontmoet het, hom nog iets vertel wat hom in sy soektog kan
help nie, en die stemme van die woud waarvan hy gehoor het, is
tjoepstil. Sy goggatjies is al op, maar hy is so moeg dat
wanneer hy sy lang, taai tong uitskiet om iets vir ete te vang,
dit te laat is, en sy prooi gemaklik ontsnap. "Ek sal nie bang
word nie en ek sal nie na mamma se goggabredie verlang nie en ek
sal nie huis toe gaan voor ek Rooi Rudie kan wees nie", praat
Rudie homself moed in.
Rudie word stadig wakker en rek hom behaaglik uit, hy het
lanklaas so lekker nagrus gehad en voel sommer nou weer vol
moed. "Vandag is die dag", dink hy. Woeps! Hierdie keer was die
sprinkaan wat verbyhop te laat. Hy kelk die blaar naaste aan hom
vir 'n koel slukkie water en vee sommer sy gesiggie skoon.
"Sjjjj, sjjjj, sjjjj"....Kaplaks! Hierdie keer val Rudie regtig
uit die boom. Sy ogies draai om en om en sy hartjie klop so
doef, doef, doef. Wat het hy gehoor, hy luister weer
fyn..."Sjjjj, sjjjj, Wouter slaap nog Elfie en jy weet wat
gebeur as ons hom wakker maak!"
"Wie, waar wat?!" Waar Rudie op die blarevloer van die woud l